Hallo Nadia

As dit rof gaan in ʼn mens se lewe is daar baie onrusbarende dinge wat ʼn mens raaksien. Dit is geen troos om die koerant op te tel of nuus te luister nie. Moord, politieke korrupsie, meningsgevegte en brandstofpryse dra nie by tot my siel se saligheid nie.

Daar is baie verstaanbare en onverklaarbare dinge wat ons harte met vrees kan vul.

Amper soos die storm wat Jesus en sy dissipels se skuit getref het terwyl Hy geslaap het. As daar storms in ʼn mense se lewe kom, wonder ons mos maklik of God slaap. Later dink ons dat Hy sommer ‘weg’ is. In die middel van die storm, in die skuit op die rowwe see, het Jesus gevra waarom hulle bang was en het hulle dan nie geloof nie.

Vir my beteken dit dat daar sal storms wees. Dit kan natuurlike, emosionele, finansiële en geestelike storms wees. In stormagtige situasie kan ons glo, sonder om bang te wees. Ook hierin het God ons tegemoed gekom. Hy het nie vir ons ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7)

Mag jou dag gevul wees met hoop en genesing. Ek bid dat jy die dinge wat jou bang maak en met vrees vul, een vir een sal raaksien en van ontslaekan raak. Om nie te vrees nie is ʼn opdrag van God, maar waarmee vervang ʼn mense jou vrees?

As ek spook met vreesgedagtes bid ek daaroor en gaan kyk dan doelbewus na God se beloftes. Ek oordink daardie beloftes, want in 2 Kor. 1:20 staan “... hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” Dit beteken dat God se beloftes in waar, uit en klaar.

Nadia, mag jy God se vrede, wat alle verstand te bowe gaan, beleef.

Liefde in Christus.

Dr. Barbara

 

Daar is ook 'n weeklikse Engelse 'blog', Wellness4Wholeness vir mense wat met mense werk.