Alles vir almal.

Ek is ‘n toegewyde ma, jarelange student, aktiewe gemeenskapslid en so meer. Ek het vir baie lank probeer om by meer dinge uit te kom as wat ek op twee hande kan opnoem. Dan was daar ook die ekstras. Krisisberading en trauma ontlonting wat eenvoudig moes gebeur anders word die bediening afgeskeep.

Sommige aande het ek teruggedink oor my dag en gewonder waar is die dag heen. Dit het gevoel asof die idee om alles vir almal te probeer wees dieselfde is as niks vir enige iemand. Ek weet nie of die stelling waar is nie, maar my energie was so uitgeput dat my sin van betekenisvolle werk en liefdevolle verhouding verdof het.

Een Saterdagoggend het ek besluit dat dit was hoog tyd vir verandering. My verstaan van my lewensdoel en roeping is vas en seker. My liefde vir my gesin en omgee vir mense is onbetwisbaar. Wat moes verander?

Daardie oggend het ek op die tuintrappie gesit en kyk hoe my man die rose snoei. Hy het rustig elke roosplant se takke een vir een geknip en geseël. Tydsaam en sorgvuldig. Daar en dan het ek besluit om my dagboek net so sorgvuldig onder oë te neem en kyk watter besig-wees-dinge vat tyd en energie sonder om van ware waarde te wees. Ek kon eenvoudig nie alles vir almal wees nie. Die lewe is te kort om deel te wees van vergaderings en goeters wat die lewe uit my gewurg het. Dit was snoeityd in my lewe.

Die eerste dinge wat ek gesnoei het was die duplikate in my dagboek. Daardie dubbele inskrywings wat ek later sou uitsorteer. Daar was geen manier wat ek op twee plekke gelyk kon probeer wees. Dit is maklik om te sê ‘n mens moet jou prioriteite reg kry, maar daar kom ‘n punt wat alles ewe belangrik lyk en jy begin afskeep werk doen. Die snoeityd het beteken die beste wat ek kan doen is net een ding op ‘n slag is. Die res moes uit!

Die volgende stap was om neer te skryf wat is belangrik genoeg om tyd en energie in te belê. Dit was ‘n sifproses van wat is belangrik en wat is noodsaaklik. Toe snoei ek daardie dinge wat dringend lyk maar net ‘n vermorsing van tyd is omdat dit ‘n sinnelose gejaag na wind is. Die snoeityd het verder beteken dat ek mooi moes nadink oor die dinge in my lewe wat opbouend, inspirerend en bemoedigend is vir almal wat betrokke is.

Soos die getroue tuinier het ek teruggestaan en gekyk waarvoor het ek tyd. Groot was my verrassing om te sien hoe lank die lys van belangrike dinge in my lewe steeds is. Ek het meer as genoeg tyd vir my verhouding met my HERE; die liefde in my lewe; my kinders; my vriende; kliënte; bedieningsgenote; studente en stokperdjies.

Ek hoef nie alles vir almal te wees nie, want om my tyd en onverdeelde aandag aan jou te gee is die beste wat ek kan gee.

As jy vuisvoos voel en uitgeput raak is jy welkom om ‘n afspraak te maak sodat ek jou kan help om jou kop weer op te te. Ek is ‘n oproep ver. Jy kan self ‘n afspraak bespreek sonder enige derde party wat baie vrae vra deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.

Groete tot volgende keer.

Dr Barbara