Hallo Nadia

Die weer in Pretoria is koel en ideaal vir ‘n heerlike beker koffie op die bankie in die tuin. Dit is ‘n rustige oomblik om dankbaar te wees vir al die genade wat in my lewe seëvier.

Een van die grootste stukke genade in my lewe is die vermoë om te kan lees. Lees het nie vanselfsprekend ontwikkel in my groot-word-jare nie en skool toe gaan was nie my gunsteling tydverdryf nie. Ek moes ‘n bietjie harder werk as ander om te leer lees. Gelukkig het ek van kleins af ‘n honger om te weet wat in boeke staan.

Die ander dag het ek weer gehoor hoe iemand vertel hoe niks wat hulle op skool geleer het vandag iets beteken nie. Hulle borduur toe voort oor hoe boekkennis pure verniet is en studeer is tyd mors. Op my bankie in die tuin dink ek: “Sjoe, wat ‘n mondvol?”

Alhoewel skoolgaan ‘n uitdaging was en niemand ‘n handboek tot die letter toepas nie, het ek so baie geleer. Ek is dankbaar vir wat ek by onderwysers en maats geleer het, want dit is deel van die fondasie waarmee ek vandag kan werk, geskep en woeker. Later het dosente en mentors my gehelp om ‘n stuk verder op daardie fondasie te bou.

Uiter aard is ‘n fondasie nie iets wat oop en bloot lê, tensy daar fout met ‘n gebou is nie. My fondasie is onder die oppervlak. Dit is ‘n sterk basis, want van kleins af het ek die voorreg gehad om uit die Woord van God te leer. Ek het van jongs af geleer om ekstra werk te doen om te bereik wat nodig was.

Vandag is ek dankbaar vir die geleenthede wat ek ontvang het en mee kon werk. Wat ek geleer het was nooit verniet nie. Dit was nie verniet in die sin van waardeloos nie. Dit was ook nie verniet in die sin van gratis nie, want iemand het betaal vir my voorreg om te kon leer.

Nadia, ek kan jou help as jy vandag voel dat alles is sommer nutteloos en jy het nodig om hoop vir jou toekoms te kry. Ander mense se ongegronde opinies kan dinge soms skeef trek en baie seer veroorsaak. Maak gerus ‘n afspraak.