Hallo Nadia

Elkeen het nodig om ‘n bietjie ligter te raak aan die einde van die jaar. In die jaar het ieder en elk swaar laste opgetel en hartseer, saam met teleurstelling, in die oë moes kyk. Die gebeure, drama en krisisse rondom COVID-19 was egter net ‘n seisoen in ons lewens. ‘n Lang seisoen waarvan die einde nog nie in sig is nie.

Ek het baie hoop vir die komende jaar. Dalk gaan dinge nog moeilik wees op die ekonomiese front, maar ons is waarlik geseën en uitgespaar. God is waarlik goed vir ons in hierdie seisoen waarin ons leef.

Van tyd tot tyd gaan doen ek doelbewus introspeksie om vas te stel hoe my lewenskwaliteit lyk en bepaal of ek nog besig is met die dinge wat waarlik belangrik is. Die innerlike voorraadopname help my om seker te maak dat my hartspasie en die grondgebied van my gedagtes gesond is.

In die jaar het dit gebeur dat ek hartspasie gewy het aan mense wat te besig was met ander dinge, soos jaloesie, kompetisie en verskuilde agendas. Tussen die teleurstelling en nadenke moes ek opnuut besef dat ek nie ander se verwagtinge of agendas kan bestuur nie. Wanneer iemand in jou hartspasie in klim word hulle deel van jou lewe. Mense in jou hartspasie behoort nie gewigtig te wees nie, want hulle bring liefde, respek, waarheid en goedhartigheid. Hulle bring glimlag en skaterlag.

Die verhoudinge waar liefde, respek, waarheid en goedhartigheid kort, beroof jou van jou vertroue en breek jou moed. Hierdie pyn maak jou nie sterker nie, want jy is reeds sterk. Nadia, jy het nodig om te besluit of jy nodig het om die swaar laste saam te sleep. In die moeilikste tyd in jou jaar het jy almal se ware kleur gesien. Gee jy hartspasie aan mense wat jou nie eers ‘n tweede gedagte gee nie?

Jesus nooi jou: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig (Matthéüs 11:29-30). Ons kan nie namens ander mense gehoorsaam wees nie. Elkeen word egter genooi om ligter daaraan toe te wees deur laste oor te gee.

Tyd gaan verby, omstadighede verander, herinnering vervaag, gevoelens verander, maar die hart vergeet nie. Hou vas aan jou Godgegewe waarde en hoop.

 

My kantoor is oop gedurende die feestyd vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.

 

Ons stuur die daaglikse elektroniese bemoedigingsboodskap via Vriende van Inter Trauma Nexus. Gratis op jou versoek. Teken vandag nog in vir 'n kort en kragtige boodskap met 'n kleurvolle gedagte vir die dag

Groete tot volgende keer.

Dr Barbara